close
Gaan na inhoud

Fiksie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Image
Oorspronklike illustrasie deur Alphonse de Neuville en/of Léon Benett van die Franse uitgawe van Jules Verne se roman "Om die wêreld in 80 dae".

Fiksie is die vorm van ’n werk wat, gedeeltelik of algeheel, handel oor inligting of gebeure wat nie werklik is nie, en eerder denkbeeldig en teoreties is – dus, wat deur die skrywer versin is. Hoewel fiksie ’n vername vertakking van literêre werke omskryf, kan dit ook na teatrale, kinematiese of musikale werke verwys. Fiksie staan teenoor nie-fiksie, wat te doen het met eksklusiewe feitlike (of ten minste veronderstelde feitlike) gebeure, beskrywings, waarnemings ens. (bv. biografieë, geskiedenisse).

Definisie en teorie

[wysig | wysig bron]

Die fiktiewe aard van ’n werk word gewoonlik openlik te kenne gegee, sodat die gehoor verwag dat ’n fiksiewerk in ’n mindere of meerdere mate van die werklike wêreld sal afwyk eerder as om bloot feitelik korrekte weergawes of karakters wat werklike mense is, aan te bied.[1] Omdat daar algemeen aanvaar word dat fiksie nie by die werklike wêreld hou nie, is die temas en die konteks van ’n fiksiewerk – of en hoe dit met werklike vraagstukke of gebeure verband hou – oop vir interpretasie.[2]

Aangesien fiksie die langste in die letterkunde gevestig is, word die breë studie van die aard, funksie en betekenis van fiksie literatuurteorie genoem, en die nouer uitleg van bepaalde fiksietekste literatuurkritiek – met langgevestigde onderafdelings soos film- en teaterkritiek.[1] Buiten sy verbande met die werklike wêreld kan ’n fiksiewerk ook karakters en gebeure binne hul eie konteks uitbeeld, heeltemal apart van die bekende fisiese heelal: ’n selfstandige fiktiewe heelal. Die skeppende kuns om so ’n verbeelde wêreld op te bou, staan as wêreldbou bekend.[3]

Die literatuurkritikus James Wood voer aan dat fiksie sowel kunsgreep as skynwaarheid (artifice and verisimilitude) is: dit verg dus sowel skeppende vindingrykheid as ’n aanvaarbare mate van geloofwaardigheid vir sy gehoor. Hierdie gedagte word dikwels saamgevat in die digter Samuel Taylor Coleridge se begrip van die gehoor se gewillige opskorting van ongeloof.[4] Geleerdes ondersoek al eeue lank die uitwerking van die ervaring van fiksie en die wyse waarop die gehoor verander word deur die nuwe inligting wat hulle deur fiksie ontdek.[1]

Kenmerke

[wysig | wysig bron]

Fiksie word dikwels volgens die mate waarin dit by die werklikheid hou, in twee sambreelgenres verdeel. Spekulatiewe fiksie hou in ’n mindere mate by geloofwaardige mense, gebeure of plekke, en realistiese fiksie in ’n groter mate.[5]

Realistiese fiksie

[wysig | wysig bron]

Realistiese fiksie, hoewel dit nie waar is nie, kan moontlik gebeur. Sekere gebeure, die mense en plekke kan selfs bestaan. Dit is moontlik dat versinde gebeure in die toekoms werklik kan afspeel. Jules Verne se roman Van die Aarde na die Maan is byvoorbeeld as moontlik bewys met Neil Armstrong se maanlanding. Nog ’n sub-genre wat hierby gevoeg kan word, is misdaadfiksie soos: Sherlock Holmes deur Arthur Conan Doyle, Hercule Poirot deur Agatha Christieen so voorts. Al hierdie werke beeld ’n fiktiewe maar aanneemlike storie uit. Een sub-genre van realistiese fiksie is die historiese roman, wat om ware groot gebeure en tydperke in die verlede sentreer. Die poging om verhale getrou aan die werklikheid te laat voel en besonderhede meer objektief te beskryf – en die 19de-eeuse kunsbeweging wat hierdie benadering kragtig begin bevorder het – staan as literêre realisme bekend, ’n stroming wat sowel fiksie- as nie-fiksiewerke insluit.[5]

Nie-realistiese fiksie

[wysig | wysig bron]
Image
'n Illustrasie uit Lewis Carroll se Alice se avonture in Wonderland, wat die fiktiewe protagonis, Alice uitbeeld besig om fantasie-kroukie te speel.

Nie-realistiese fiksie is fiksie waarvan die gebeure in die storie nie in die werklikheid kan voorkom nie, soos ’n alternatiewe geskiedenis van die mensdom wat nie opgeteken is nie of onmoontlike tegnologie wat benodig word. ’n Groot aantal sulke tipe fiksieboeke is in omloop, insluitend werke deur Lewis Carroll (Alice se avonture in Wonderland), J.K. Rowling (Harry Potter ), en J. R. R. Tolkien (Die heerser van die ringe).

Selfs fantasie-literatuur is egter tweedimensioneel: dit lê iewers tussen die realisme en wonderlike of mitiese pole. Geografiese detail, karakterbeskrywings ens. skets ’n realistiese retoriek, dit "invites the reader to ignore the text's artifice, to suspend one's disbelief, exercise poetic faith and thereby indulge in the narrative's imaginative world". Die tweedimensionaliteit kom in die storie te voorskyn as verrassend of skrikwekkend. Volgens G. W. Young en G. Wolfe word fiktiewe realiteite buite die teks opgeroep, en word die leser se vorige opvattings ontbloot as onvolledig. Dus "by fiction is one able to gain even fuller constructs of what constitutes reality". Aan die ander kant belig die oneindige fiktiewe moontlikhede die onmoontlikheid daarvan om die werklikheid volledig te ken. Daar is geen kriteria waarmee die samestellings van die werklikheid gemeet kan word nie – as laaste toevlug is dit "entirely fictional".[6]

Semi-fiksie

[wysig | wysig bron]

Semi-fiksie is fiksie wat aan ’n groot aantal nie-fiksie uitvoering gee,[7] byvoorbeeld: ’n fiktiewe weergawe "gebaseer op ’n ware verhaal", of ’n fiktiewe rekenskap of opnuut saamgestelde biografie. Daar sal gereeld, selfs al beweer die skrywer dat dit waar is, betekenisvolle byvoegings en weglatings tot ’n storie gemaak word vir ’n meer paslike storievertelling. Helfte fiksie en helfte nie-fiksie.

Fiksie teenoor nie-fiksie

[wysig | wysig bron]

In teenstelling met fiksie aanvaar die skeppers van nie-fiksie verantwoordelikheid daarvoor om inligting, en soms opinie, aan te bied wat slegs op historiese en feitelike werklikheid gegrond is. Ondanks die tradisionele siening dat fiksie en nie-fiksie mekaar se teenoorgesteldes is, vervaag party werke – veral in die moderne tyd – hierdie grens. Dit geld veral werke in eksperimentele verhaalgenres, waaronder party postmoderne fiksie, outofiksie en kreatiewe nie-fiksie soos nie-fiksieromans en dokudramas, maar ook die doelbewuste literêre bedrog waarin fiksie valslik as nie-fiksie bemark word.[8][9]

Die onderskeid tussen nie-fiksie en fiksie word waarskynlik die beste vanuit die gehoor se oogpunt gedefinieer: ’n werk is nie-fiksie indien sy mense, milieu en plot geheel en al as histories of feitelik werklik ervaar word, en dit is fiksie indien dit in enige van daardie opsigte van die werklikheid afwyk.[2]

Selfs die meeste fiksiewerke bevat elemente van waarheid, of is op een of ander soort waarheid gegrond, of op waarheid uit ’n bepaalde oogpunt. Alle soorte fiksie nooi hul gehoor uit om werklike idees, vraagstukke of insigte – die temas – te verken deur middel van ’n verbeelde milieu, ’n verbeelde reeks gebeure of iets anders wat aan die werklikheid grens sonder om daarmee saam te val. Soos die filosoof Stacie Friend dit stel, lees ons fiksiewerke net soos nie-fiksiewerke asof hulle oor die werklike wêreld handel, selfs al nooi hulle ons uit om die wêreld anders voor te stel as wat dit werklik is.[10] Navorsing deur Joshua Goodstein en Deena Skolnick Weisberg het bevind dat lesers deurgaans aanvaar dat sekere feite uit die werklike wêreld ook in ’n fiksiewêreld geld – al is hulle nooit uitdruklik daarvan vertel nie – maar dat hulle sensitief is vir die soort feit en vir hoe realisties die verhaal is.[11]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Storievertelling het in alle menslike kulture bestaan, en elke kultuur meng ander elemente van waarheid en fiksie daarin. Vroeë fiksie was nou verwant aan die geskiedenis en aan die mite. Griekse digters soos Homeros, Hesiodos en Aesopus het fiktiewe verhale ontwikkel wat eers mondeling oorgedra en later opgeskryf is. Prosafiksie het in Antieke Griekeland ontstaan, onder die invloed van die verteltradisies van Asië en Egipte. Werk wat duidelik as fiksie herkenbaar was, is egter nie voor die Romeinse keiserlike tydperk as iets aparts van historiese of mitologiese verhale beskou nie. Verhale wat heeltemal versinde karakters en gebeure volg, het deur die antieke drama en die Nuwe Komedie ontwikkel.[12]

’n Struktuur wat algemeen in vroeë fiksie voorkom, is ’n reeks vreemde en fantastiese avonture, waarmee die vroeë skrywers die grense van fiksieskryfwerk getoets het. Die Milesiese verhale was ’n vroeë voorbeeld van fiksieskryfwerk in antieke Griekeland en Italië. Namate fiksieskryfwerk in Griekeland ontwikkel het, is meer klem op herkenbare karakters en geloofwaardige situasies gelê om beter met die gehoor te skakel, met elemente soos die liefde, seerowery en godsdienstige seremonies. Die ridderroman het in die middeleeuse Europa ontwikkel en elemente ingesluit wat vandag met fantasie verbind word, waaronder bonatuurlike verskynsels en ridderlikheid.[13]

Die struktuur van die moderne roman is in die vroeë 17de eeu deur Miguel de Cervantes met Don Quijote ontwikkel.[14] Die roman het in die 18de en 19de eeu die vernaamste medium van fiksie geword en is dikwels met idees van die Verligting soos empirisme en agnostisisme verbind. Realisme het in hierdie tyd as literêre styl ontwikkel.[15] Nuwe vorme van massamedia het in die laat 19de en vroeë 20ste eeu ontstaan, waaronder tydskrifte vir populêre fiksie en die vroeë film.[16] Interaktiewe fiksie het in die laat 20ste eeu deur videospeletjies ontwikkel.[17]

Aanhalings

[wysig | wysig bron]

Daar is selfs onder skryfinstrukteurs en welbekende skrywers min ooreenstemming oor die aantal en samestelling van die fundamentele elemente van fiksie, byvoorbeeld:

  • "Fiction has three main elements: plotting, character, and place or setting." (Morrell 2006, p. 151)
  • "A charged image evokes all the other elements of your story—theme, character, conflict, setting, style, and so on." (Writer's Digest Handbook of Novel Writing 1992, p. 160)
  • "For writers, the spices you add to make your plot your own include characters, setting, and dialogue." (Bell 2004, p. 16)
  • "Contained within the framework of a story are the major story elements: characters, action, and conflict." (Evanovich 2006, p. 83)
  • ". . . I think point of view is one of the most fundamental elements of the fiction-writing craft . . . ." (Selgin 2007, p. 41)

Soos gestel deur Janet Evanovich, "Effective writing requires an understanding of the fundamental elements of storytelling, such as point of view, dialogue, and setting. " (Evanovich 2006, p. 39) Die debat oor die aantal en samestelling van die grondliggende elemente van fiksie duur voort.

Elemente

[wysig | wysig bron]
Image
Freytag se piramide van intrige.

Intrige

[wysig | wysig bron]

Intrige of die storielyn (soms ook die plan of plot) is hoe die storie ontvou deur die vertelling, deur die onthulling van informasie, en deur wat karakters doen, sê en dink. Dit is die werklike aksie wat tot ’n eenheid gebring word deur die omhullende aksie, die universele aksie, die grondvormende aksie. Soos Aristoteles gesê het, wat ’n storie eenheid gee, is nie soos wat die massas glo dit oor een persoon gaan nie, maar dat dit oor een aksie gaan. Plot, of die storielyn, word dikwels genoem as een van die fundamentele elemente van fiksie. Dit is die vertolking en organisering van die gebeure en aksies van ’n storie. Op ’n mikroskopiese vlak bestaan plot uit aksie en reaksie, ook na verwys as stimulus en antwoord. Op ’n makro-vlak het plot ’n begin middel en einde. Plot word dikwels uitgebeeld as ’n boog met ’n sigsaglyn wat die styg en val van die aksie verteenwoordig. Plot het ook ’n middelvlakstruktuur: toneel en opsomming. ’n Toneel is ’n eenheid van drama – waarin die aksie voorkom. Dan, na een of ander oorgang, volg die opsomming – ’n emosionele reaksie en hergroepering, ’n nadraai. Vir ’n aangename tong-in-die-kies aanmerking oor plot, gaan loer na Katherine Anne Porter se "No Plot, My Dear, No Story" in The Occasional Writings and Collected Essays of Katherine Anne Porter, Seymour Lawrence, 1970.

Eksposisie

[wysig | wysig bron]

Eksposisie is die gedeelte van ’n narratief wat die belangrike agtergrondinligting aan die leser bekend stel (soos gebeure voor die hoofplot of ’n karakter se agtergrondstorie) maar nie deel is van die plot se aksie self nie.[18] Indien die eksposisie te didakties is, kan dit die plot se momentum dood. Daarom word ’n aantal literêre tegnieke gebruik om die leser se aandag te fnuik of om dit te versteek. Die tegnieke sluit in terugverwysings, toevallige dialoog (deur ’n karakter na sy suster te laat verwys as "Sus"), eerstepersoonsdenke oor die verlede ("Jare gelede, tydens diensplig in Suidwes...”) of projeksies die toekoms in ("dit was eers jare later dat ek uitgevind het … ") en derdepersoon, alsiende narratief opgedeel in kort gedeeltes regdeur die storie.

Voorafskaduwing

[wysig | wysig bron]

Voorafskaduwing is ’n tegniek wat deur outeurs gebruik word om leidrade te verskaf sodat die leser kan voorspel wat moontlik later in die verhaal kan gebeur. ’n Outeur los subtiele leidrade oor die plotontwikkeling wat later in die verhaal gaan voorkom. Dit berei die leser voor vir latere aksie en daaropvolgende beelde sodat die leser of toeskouer nie geskok is nie en skynwaarheid word selfs in wetenskapfiksie, fantasie, magiese ryke en ander genres gehandhaaf, wat andersins liggelowigheid sal toets. Indien so ’n tegniek deur die leser of toeskouer herken word kan dit oneffektief wees en kunsmatig voorkom.

Stygende aksie

[wysig | wysig bron]

Die stygende aksie volg, in die narratief van fiksiewerke, die eksposisie (verwikkeling) en lei opwaarts tot die klimaks (draaipunt). Die doel van die stygende aksie is gewoonlik om spanning te bou tot met die klimaktiese einde. Dit moet nie verwar word met die middel van die storie nie, en is die aksie net voor die draaipunt. Die materiaal na die draaipunt staan bekend as die dalende aksie.

Klimaks

[wysig | wysig bron]

In fiksie vergelyk die klimaks (draaipunt) dikwels met die van die klassieke komedie, wat na aan die einde van die teks of opvoering voorkom, na die stygende aksie en voor die dalende aksie. Dit is die oomblik van die grootste gevaar vir die protagonis(te) en bestaan normaalweg uit ’n oënskynlike onvermydelike fiasko – dit verras jou tot die punt waar jy opgewonde raak om te sien hoe dit tot ’n einde kom.

’n Draaipunt sluit dikwels drie elemente in. Die belangrikste is dat die protagonis verandering ervaar. Die hoofkarakter ontdek iets oor hom- of haarself en ’n ander onbekende karakter. Die laaste element is die openbaarmaking van die tema self.

Dalende aksie

[wysig | wysig bron]

Die dalende aksie is die gedeelte in ’n storie, gewoonlik gevind in tragedies en kortverhale, wat op die klimaks volg en die gevolge daarvan weergee. Dit lei tot die dénouement (of ontknoping),[19] waar die storie se stof gaan lê en dit moontlik ontknoop word.

Dénouement

[wysig | wysig bron]

Dénouement (ontknoping) gebeur na die klimaks, waar die konflik beslis word. Dit kan ’n oomblik van finale afwagting bevat waartydens die uiteindelike uitslag van die konflik betwyfel word.

Konflik

[wysig | wysig bron]

Konflik is algemeen gesproke ’n nodige element van fiktiewe literatuur. Soos Brooks en Warren dit gestel het: Understanding Fiction en soos baie ander opgemerk het, geen konflik, geen storie. Dit is dikwels moeilik vir lesers om die konflik te identifiseer in gesofistikeerde fiksie, maar sy lokus is altyd op die protagonis gefokus. Vir die storie om die leser of toeskouer te betrek, kan die konflik gewoonlik gesien word as onmiddellik, dringend, en onoplosbaar. Verder is die konflik, as dit tussen goed en sleg gesien word, afhanklik van of die toeskouer die goeie of slegte verkies en is dus ’n geringe storie op sy beste. Die word beskryf as die probleem in enige werk van letterkunde en word dikwels volgens die aard van die protagonis of antagonis soos volg ingedeel:

Tipes konflik

[wysig | wysig bron]
Image
Namaaksel van die eerste uitgawe van Bram Stoker se roman Dracula.

Daar is vyf wyd aangehaalde tipes konflik. Heelwat ander soos Persoon teenoor God word gewoonlik in een van die ingedeel. In verskeie antieke kulture sal Persoon teenoor Noodlot dikwels die konflik in die storie vergestalt. In ons moderne era het Persoon teenoor Masjien, ook bekend as Persoon teenoor Tegnologie nog ’n tipe geword.[20]

Persoon teenoor Self is die tema in letterkunde wat ’n karakter teenoor sy eie wil, twyfel of vrese plaas. Persoon teenoor self kan ook voorkom waar ’n karakter probeer vasstel wie hy is, tot ’n besef kom of verandering ondergaan. Hoewel die stryd intern woed, kan die karakter deur eksterne magte beïnvloed word. Die stryd van die mens om tot ’n besluit oor te gaan is die basis van Persoon teenoor Self. Voorbeelde sluit die titelkarakter van Beowulf in. Meer onlangs is die Oscar-bekroonde film A Beautiful Mind gepostuleer as ’n Persoon teenoor Self konflik. Faulkner het in sy toespraak tydens die bekroning genoem dat groot stories die is van die hart in konflik met homself. Hiermee in die agterkop kan die ander konfliktipes hieronder genoem in die agtergrond saamsmelt as deel van die stel eerder as die konflik-in-homself van enige gegewe storie. ’n Eenvoudige, klaar voorbeeld kan Jack London se "To Build a Fire" wees waarin ons kan waarneem dat die konflik nie Man teenoor Natuur is nie maar Man teenoor Sy eie natuur.

Persoon teenoor Persoon is ’n literêre tema waarin die hoofkarakter se konflik met ’n ander persoon die fokus van die storie is. ’n Voorbeeld is die held se konflik met die sentrale skurk van ’n verhaal, wat ’n groot rol in die plot speel en bydra tot die ontwikkeling van beide karakters. Daar is gewoonlik verskeie konfrontasies voor die klimaks bereik word. Die konflik is ekstern. ’n Voorbeeld is die konflik tussen Judah en Messala in Ben-Hur, so ook die konflik tussen ’n boelie en sy prooi.

Persoon teenoor Samelewing is ’n fiksie-tema waarin die hoofkarakters, of ’n groep van hoofkarakters se vernaamste oorsaak van konflik sosiale kondisionering of konsepte is. In die sin is die onderskeie partye: a) die protagonis(te); b) die samelewing waarbinne die protagonis(te) beweeg. Die samelewing word dikwels as ’n enkele karakter beskou, net soos ’n opponerende groep gesien word in ’n Persoon teenoor Persoon konflik. Dit kan ook ’n enkele protagonis wees teenoor ’n groep of samelewing van antagoniste, of die samelewing gelei deur ’n tipe antagonistiese mag. Voorbeelde hiervan in die literatuur sluit in die kortverhaal "The Ones Who Walk Away from Omelas" deur Ursula K. Le Guin of die roman Wuthering Heights deur Emily Brontë.

Persoon teenoor Natuur is die literêre tema wat ’n karakter teenoor die natuurkragte plaas. Baie rampfilms fokus op hierdie tema, wat oorheers binne verskeie oorlewingstories. Dit tree ook sterk na vore in stories oor die stryd om oorlewing in afgesonderde gebiede, soos Gary Paulsen se Hatchet of Jack London se kortverhaal "To Build a Fire".

Persoon teenoor Bonatuurlik is ’n literêre tema wat die karakter plaas teenoor bonatuurlike magte. Indien ’n entiteit in konflik met hom-, haarself verkeer word dit as intern geklassifiseer, anders is dit ekstern. Sulke stories word meermale gesien in Freudiaanse kritiek as voorstelling van die Id teenoor Superego. Bram Stoker se Dracula is ’n goeie voorbeeld hiervan, so ook Frankenstein deur Mary Shelley en Christabel deur Samuel Coleridge. Dit is ook baie algemeen in strokiesprentboeke.

Karakter

[wysig | wysig bron]

Karakterisering word dikwels gelys as een van die fundamentele elemente van fiksie. ’n Karakter is ’n deelnemer in die storie, en gewoonlik ’n persoon, maar kan enige persoonlike identiteit wees, of ’n entiteit wie se oorsprong ontstaan uit ’n fiktiewe werk of optrede.

Karakters kan verskeie tipes wees:

  • Vertelperspektief-karakter: Die karakter vanuit wie se perspektief (tema) die gehoor die storie meemaak. Dit is die karakter wat die perspektief voorstel waarmee die gehoor empatiseer, of ten minste mee simpatiseer. Daarom is dit die hoofkarakter.
  • Protagonis: die aanvoerder van die aksie van die storie en daarom verantwoordelik vir die bereik van die storie se objektiewe storiedoelwit (die oppervlakreis). In Westerse storieverteltradisies is die protagonis gewoonlik die hoofkarakter.
  • Antagonis: ’n Persoon of groep (antagoniste) wat die hoofkarakter(s) teenstaan. Die antagonis bereik selde sy doel aan die einde van die boek/reeks.
  • Statiese karakter: ’n Karakter wat nie betekenisvol verander deur die loop van die storie nie.
  • Dinamiese karakter: ’n Karakter wat Karakterontwikkeling ondergaan deur die verloop van die storie.
  • Teenhanger: die Karakter wat die protagonis kontrasteer op ’n manier wat die se persoonlikheid en karakteristieke uitlig.
  • Ondersteunende karakter: ’n Karakter wat ’n deel in die plot het maar nie ’n grote nie.
  • Mindere karakter: ’n Karakter in ’n kameerol.

Metodes van karakterontwikkeling

[wysig | wysig bron]
  • Voorkoms verduidelik en beskryf die karakter se uitwaartse voorkoms sodat leser hulle kan voorstel en relatief tot ander karakters kan identifiseer.
  • Dialoog is dit wat karakters sê en hoe hulle dit sê.
  • Aksie is wat karakters doen en hoe hulle dit doen.
  • Reaksie van ander is hoe ander karakters ’n hoofkarakter behandel en beskou.

Simbolisme

[wysig | wysig bron]

Simbolisme is die toegepaste gebruik van simbole: ikoniese voorstellings wat spesifieke konvensionele betekenisse dra.

Die term "simboliek" is beperk tot gebruike in "representasie"; definiëring van die algemene rigtings van ’n lineêre spektrum – waarbinne alle simboliese konsepte in verhouding gesien kan word, en veranderinge in konteks die sistemiese verandering kan impliseer tot individuele en kollektiewe definisies van simbole. "Simboliek" kan verwys na die metode vir die kies van verteenwoordigende simbole in lyn met abstrakte eerder as letterlike eienskappe, wat eerder toelaat vir die breër interpretasie van ’n gedraagde betekenis as wat meer letterlike konsepverteenwoordigings voor toelaat. ’n Godsdiens kan beskryf word as ’n taal van konsepte verwant aan menslike spiritualiteit. Simboliek is daarom ’n belangrike deel van meeste gelowe.

Die interpretasie van abstrakte simbole het ’n belangrike rol in godsdiens en psigoanalise gehad. Volgens Sigmund Freud en Carl Jung se beskouing is simbole nie gedagteskeppings nie, maar eerder afsonderlike vermoëns in die verstand vir die berg van ’n aparte brokkie inligting. Binne die verstand kan die simbool vrye assosiasie vind met enige aantal ander simbole, kan dit op verskeie maniere georden word en kan dit die gekoppelde betekenisse tussen simbole as simbole in hulself bevat. Jung en Freud het van mekaar afgewyk oor die saak rondom algemene kognitiewe simbolestelsels en of dit slegs binne die individuele verstand kan bestaan of tussen ander s'n ook; en of enige kognitiewe simboliek gedefinieer is deur ingebore simboliek of deur die invloed van die omgewing rondom hulle.

Metafoor

[wysig | wysig bron]

Metafoor (vanuit Grieks: "toepas", letterlik "dra oor") is taal wat oënskynlik onverwante onderwerpe direk met mekaar vergelyk. Dit is beeldspraak wat twee of meer dinge vergelyk sonder die gebruik van soos of so. In die eenvoudigste geval neem dit die vorm aan van: "Die [eerste onderwerp] is ’n [tweede onderwerp]." Meer algemeen beskou is ’n metafoor ’n retoriese troop wat ’n eerste onderwerp beskryf as om of soos ’n tweede voorwerp te wees op een of ander manier. Daarom kan die eerste onderwerp ekonomies beskryf word aangesien implisiete en eksplisiete eienskappe van die tweede voorwerp gebruik word om die beskrywing van die eerste onderwerp te belig. Dit is ’n bekende gebruik in letterkunde, veral in poësie, waar ’n paar woorde, emosies en assosiasies van een konteks geassosieer word met voorwerpe en entiteite in ’n ander konteks. ’n Eenvoudiger definisie is die vergelyking van twee onverwante dinge sonder die gebruik van woorde soos "soos" of "so".

Die term is afgelei van die Griekse μεταφορά (metaphora), of "oordrag",[21] vanaf μεταφέρω (metaphero) "om oor te dra, om te verplaas"[22] en dit vanaf μετά (meta), "tussen"[23] + φέρω (phero), "om te dra".[24]

Tipes plot

[wysig | wysig bron]

Chronologiese volgorde

[wysig | wysig bron]

Met chronologiese volgorde verloop alle gebeure in die teks in die volgorde waarin dit gebeur. Daar kan verwysings wees na die toekoms of verlede, maar die gebeure is geskryf volgens tydsverloop. Daar is nie terugverwysings of vooruitwysings nie.

Terugverwysing

[wysig | wysig bron]

In geskiedenis, rolprentwese, televisie en ander media is ’n terugverwysing (ook analepsis genoem) ’n ingevoegde scène wat die narratief terug neem in tyd vanaf die huidige plek in die storie. Terugverwysings word dikwels gebruik om gebeure weer te besoek wat voor die verhaal se primêre volgorde van gebeure afgespeel het, om belangrike gebeure te herbesoek of om belangrike voorafstories aan te vul. Karakteroorsprong-terugverwysings verwys spesifiek na terugverwysings rakende sleutelgebeure vroeër in die karakter se ontwikkeling (Clark Kent wat byvoorbeeld uitvind hy kan vlieg, of die Elric-broers se poging om hul ma terug te bring). Die TV-reeks Lost is veral bekend vir uitgebreide gebruik van terugverwysings in amper elke episode. In die teenoorgestelde rigting is ’n vooruitwysing (of prolepsis) wat weer ’n gebeurtenis in die toekoms blootlê. Die tegniek word gebruik om spanning en afwagting in ’n storie te skep, of ’n karakter te ontwikkel. In die letterkunde is ’n interne analepsis ’n terugverwysing na ’n vroeër gedeelte in die narratief en ’n eksterne analepsis ’n terugverwysing na voor die begin van die verhaal.

Verhaalagtergrond

[wysig | wysig bron]

Die verhaalagtergrond, die plek en tyd van ’n storie word dikwels gelys as een van die fundamentele elemente van fiksie. Soms na verwys as die milieu , om konteks in te sluit (soos die samelewing) buite die onmiddellike omgewing van die storie. In sekere gevalle word die agtergrond self ’n karakter en kan die toon van die storie aangee (Rozelle 2005, p. 2).

Tema, ’n konsepsuele distillering van die storie, word ook gereeld genoem as ’n fundamentele element van fiksie. Dit is die sentrale idee of insig en dien as saamvoegende element wat samehang skep, en antwoord is op die vraag, 'Wat het jy uit die fiksiewerk geleer?' In sommige gevalle is ’n storie se tema ’n prominente element en gedeeltelik onmiskenbaar. (Morrell 2006, p. 263).

Styl is nie soseer wat geskryf is nie maar eerder hoe dit geskryf is en geïnterpreteer word. Styl in fiksie verwys na taalkonvensies wat gebruik word vir die saamstel van ’n storie of artikel. ’n Fiksieskrywer kan diksie (segswyse), sinstruktuur, bewoording, dialoog en ander aspekte van taal manipuleer om styl en stemming te skep. Die kommunikatiewe effek wat deur die outeur se styl geskep word, word soms na verwys as die storie se stem. Elke skrywer het sy eie unieke styl of stem.(Provost 1988, p. 8) Styl word ook soms gelys as ’n fundamentele element van fiksie.

Kategorieë

[wysig | wysig bron]

Literêre fiksie

[wysig | wysig bron]

Die definisie van literêre fiksie is omstrede. Dit kan na enige fiksiewerk in skriftelike vorm verwys, maar daar bestaan verskeie ander definisies, waaronder ’n geskrewe fiksiewerk wat:

  • nie netjies in ’n gevestigde genre pas nie (in teenstelling met genrefiksie), wanneer die term as bemarkingsetiket in die boekhandel gebruik word;
  • deur karakter eerder as deur plot gedryf word;
  • die menslike toestand ondersoek;
  • taal op ’n eksperimentele of poëtiese wyse gebruik;
  • as ’n ernstige kunswerk beskou word.

Literêre fiksie word dikwels as sinoniem vir letterkunde gebruik, in die eng sin van geskrifte wat spesifiek as kunsvorm beskou word. Hoewel literêre fiksie soms as verhewe bo genrefiksie beskou word, sluit die twee mekaar nie uit nie: vooraanstaande literêre figure het genres soos wetenskapsfiksie, die misdaadroman en die liefdesroman gebruik om letterkunde te skep, en die studie van genrefiksie het die afgelope dekades binne die akademie ontwikkel.[1]

Neal Stephenson het aangevoer dat enige definisie noodwendig te eenvoudig sal wees, maar dat daar vandag ’n algemene kulturele verskil tussen literêre en genrefiksie bestaan: literêre skrywers word dikwels deur beskermheerskap onderhou, met ’n aanstelling by ’n universiteit of soortgelyke instelling waar die voortsetting van die pos nie deur boekverkope bepaal word nie maar deur die lof van ander gevestigde literêre skrywers en kritici, terwyl skrywers van genrefiksie hulle geneig is om deur boekverkope te onderhou. John Updike het weer in ’n onderhoud gekla dat die kategorie "literêre fiksie" onlangs opgeduik het om mense soos hy te kwel wat bloot begin het om boeke te skryf; hy het aangevoer dat al sy werke literêr is, eenvoudig omdat hulle "in woorde geskryf is".[1]

Literêre fiksie behels dikwels sosiale kommentaar, politieke kritiek of nadenke oor die menslike toestand, en dit fokus in die algemeen op indringende karakterstudies van interessante, ingewikkelde en goed ontwikkelde karakters (Saricks 2009, p. 180). Dit staan in teenstelling met genrefiksie, waar die plot die middelpunt is (Saricks 2009, p. 181–182). Die styl van literêre fiksie word dikwels as elegant geskryf, liries en gelaagd beskryf (Saricks 2009, p. 179), die toon kan donkerder wees as dié van genrefiksie en die tempo stadiger as dié van populêre fiksie (Saricks 2009, p. 182). Soos Terrence Rafferty opmerk, laat literêre fiksie vanweë sy aard toe dat dit talm en by verdwaalde skoonhede vertoef, selfs met die risiko om sy koers te verloor (Rafferty 2011).

Genrefiksie

[wysig | wysig bron]

Na gelang van hoe literêre fiksie gedefinieer word, kan genrefiksie ’n onderafdeling daarvan wees – geskrewe fiksie wat by ’n bepaalde genre inpas – of die teenoorgestelde daarvan: ’n waarde-etiket vir geskrewe fiksie wat deel van die populêre kultuur is en as artistiek of intellektueel minderwaardig teenoor die hoë kultuur beskou word. Fiksie word in elk geval algemeen in ’n verskeidenheid genres verdeel: kategorieë wat elkeen deur ’n besondere samebindende toon of styl, ’n stel verteltegnieke, argetipes of ander trope, media-inhoud of ’n ander algemeen aanvaarde maatstaf van mekaar onderskei word.[1]

Die historiese roman plaas verbeelde karakters binne werklike historiese gebeure. In Waverley (1814) ontmoet Walter Scott se fiktiewe karakter Edward Waverley die historiese figuur Karel Eduard Stuart en neem hy aan die Slag van Prestonpans deel. Party fiksiewerke is in ’n mindere of meerdere mate herverbeel op grond van ’n oorspronklik ware verhaal of ’n heropgeboude biografie, en selfs waar die verhaal op feite gegrond is, word daar dikwels by die ware storie bygevoeg en daarvan weggelaat om dit interessanter te maak. ’n Voorbeeld is Tim O’Brien se The Things They Carried (1990), ’n reeks kortverhale oor die Viëtnamoorlog.[15]

Fiksiewerke wat uitdruklik bonatuurlike, magiese of wetenskaplik onmoontlike elemente insluit, word dikwels onder die genre fantasie geklassifiseer. Skeppers van fantasie voer soms verbeelde wesens en gestaltes soos drake en feetjies in.[3]

Tipes volgens woordtal

[wysig | wysig bron]

Soorte prosa-fiksie:

  • Blitsfiksie: ’n Werk van minder as 2 000 woorde. (1 000 volgens sekere definisies) (ongeveer 5 blaaie)
  • Kortverhaal: ’n Werk van ten minste 2 000 woorde maar minder as 7 500 woorde. (5 tot 25 blaaie)
  • Novelette: ’n Werk van ten minste 7 500 maar minder as 17 500 woorde. (25 tot 60 blaaie)
  • Novelle: ’n Werk van tussen 17 500 en 50 000 woorde. (60 tot 170 blaaie)
  • Roman: ’n Werk van 50 000 of meer woorde. (ongeveer 170+ blaaie)
  • Epiek: ’n Werk van meer as 200 000 woorde. (ongeveer 680+ blaaie)[n 1]

Vorme

[wysig | wysig bron]

Tradisioneel sluit fiksie romans, kortverhale, fabels, sprokies, toneelstukke en poësie in, maar deesdae word rolprente, strokiesprentboeke en videospeletjies ook ingereken. Professionele stoei is ’n voorafgeskrewe vertoning wat vegkompetisies namaak. Die tradisionele lys sluit ook novelles, legendes, mites en epiese en verhalende poësie in, en onder toneelstukke val operas, musiekblyspele, dramas, poppespele en verskeie soorte teatrale danse. Onder die nuwer vorme tel animasieprente, stopbeweging-animasie, anime, manga, radiodramas, televisieprogramme en rolspelspeletjies.[1]

Die Internet het ’n belangrike uitwerking op die verspreiding van fiksie en daag die uitvoerbaarheid van kopiereg uit, as ’n metode om tantieme aan kopiereghouers te betaal. Digitale biblioteke soos Project Gutenberg maak tekste in openbare besit meer geredelik beskikbaar. Die kombinasie van goedkoop tuisrekenaars, die internet en die kreatiwiteit van hul gebruikers lei ook na nuwe vorme van fiksie, soos interaktiewe rekenaarspeletjies of rekenaarontwikkelde strokiesreekse. Tallose forums vir bewonderaarsfiksie kan aanlyn gevind word, waar getroue volgelinge van spesifieke fiktiewe ryke afgeleide verhale skep en versprei. Die internet word ook benut vir die ontwikkeling van webjoernaal-fiksie, waar ’n storie deur ’n webjoernaal versprei word as vonkfiksie of webjoernaalreeks, en samewerkende fiksie met stories wat opeenvolgend deur verskillende outeurs geskryf word, of die teks kan deur enigeen geredigeer word deur middel van in wiki.

Gebruike

[wysig | wysig bron]

Hoewel fiksie as ’n vorm van vermaak beskou kan word, het dit ander gebruike ook. Fiksie is al gebruik vir onderrigdoeleindes, soos fiktiewe voorbeelde in skoolhandboeke. Dit kan ook vir propaganda of reklamedoeleindes gebruik word. Hoewel dit nie noodwendig gemik is op kinders nie, bied fabels ’n duidelike morele doelstelling.

Fiksie kan vir opvoedkundige en leerdoeleindes aangewend word soos korporatiewe opleidingsprogramme vir die lewering van waardevolle lesse in bestuur en optrede.

’n Hele vertakking van letterkunde wat vermaak en wetenskapspekulasie saamvoeg is wetenskapsfiksie. ’n Minder algemene vermenging is die filosofiese roman wat fiksie en filosofie saam bring en daardeur soms die grens van propaganda-fiksie oorsteek. Die soort fiksie bestaan uit gedagte-eksperimente wat die gevolge van sekere tegnologie of filosofieë verken.

Fiksionalisering

[wysig | wysig bron]
Image
In die satiriese film The Great Dictator (1940) speel die Engelse akteur en komediant Charlie Chaplin die despoot Adenoid Hynkel, wat vir kykers van daardie tyd duidelik ’n gefiksionaliseerde weergawe van Adolf Hitler was.

Die gebruik van werklike gebeure of werklike mense as regstreekse inspirasie vir verbeelde gebeure of verbeelde individue staan as fiksionalisering bekend. Die teenoorgestelde geval, waarin die fisiese wêreld of ’n werklike gang van sake deur vroeëre fiksie beïnvloed lyk, word algemeen met die uitdrukking "die lewe wat die kuns navolg" beskryf – ’n frase wat gewoonlik met die Anglo-Ierse skrywer Oscar Wilde verbind word.[25]

Die omskakeling van werklike gebeure in ’n fiktiewe formaat, met ’n dramatiese voorstelling van werklike gebeure of mense, word sowel fiksionalisering as – meer bepaald vir visuele werke soos teater en film – dramatisering genoem. Volgens Oxford Reference het ’n werk wat so opgestel is ’n verhaal wat gedeeltelik of geheel op feite gegrond is maar geskryf is asof dit fiksie is, en sulke films en uitsaaidramas dra dikwels die etiket "gebaseer op ’n ware verhaal". In akademiese navorsing word die beoordeling van hierdie proses as deel van die mediastudie beskou.[26]

Voorbeelde van prominente fiksionalisering in die skeppende kunste kom veral voor in die konteks van die Tweede Wêreldoorlog en spesifiek van Nazi-Duitse leiers soos Adolf Hitler. Die Britse akteur en komediant Charlie Chaplin het byvoorbeeld die eksentrieke despoot Adenoid Hynkel in die satiriese film The Great Dictator (1940) gespeel. Die onstabiele, onintelligente figuur het werklike gebeure uit die destyds voortslepende oorlog gefiksionaliseer op ’n manier wat fascistiese figure as belaglik onredelik en beklaenlik voorgestel het. Baie ander skurke word deur werklike mense geïnspireer terwyl hulle fiktiewe aksente, voorkomste, agtergronde en name kry.[26]

Afrikaanse fiksie

[wysig | wysig bron]
Image
André P. Brink in 1999. Sy roman Kennis van die aand (1973) was die eerste Afrikaanse literêre werk wat deur die Suid-Afrikaanse sensuurowerhede verbied is.

Prosafiksie in Afrikaans het in die laaste kwart van die 19de eeu ontstaan, hoewel die Afrikaanse letterkunde van die eerste jare oorheersend uit poësie, godsdienstige geskrifte en koerantsketse bestaan het. Die vroeë prosaskrywers van die 20ste eeu – onder andere Jochem van Bruggen met sy Ampie-trilogie (1924–1942), D.F. Malherbe en C.M. van den Heever – het hoofsaaklik plaas- en streekromans geskryf waarin die Afrikaner se stryd om ekonomiese oorlewing sentraal staan. Die Dertigers en Veertigers wat op hulle gevolg het, was hoofsaaklik digters.[27]

Die vernuwing in die Afrikaanse prosa word gewoonlik teruggevoer na Jan Rabie se Een-en-twintig (1956), ’n bundel van 21 sketse met ’n uitgesproke liriese taalgebruik wat radikaal wegbreek van die gemoedelike streekrealisme wat byna twee geslagte lank in Afrikaans gekweek is. Rabie word daarom as die eerste Sestiger beskou.[28] Die Sestigers – onder andere Etienne Leroux, André P. Brink, Bartho Smit en Adam Small, met Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach as die vernaamste digters en Karel Schoeman onder die randfigure van die tydperk – het eksistensialistiese en modernistiese vorme in Afrikaans ingevoer en die morele en politieke gesag van die dag bevraagteken.[27]

Afrikaanse fiksie het ook met die staat se sensuurwette gebots. Brink se roman Kennis van die aand (1973) is op 29 Januarie 1974 ingevolge die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede van 1963 as "ongewens" verklaar – die eerste Afrikaanse literêre werk wat verbied is. Die verbod is ná ’n hofsaak en twee appèlle uiteindelik in 1982 opgehef, met ’n ouderdomsbeperking in die plek daarvan.[29]

Latere Afrikaanse fiksie het ook buite die taalgrense aandag gekry. Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), Dalene Matthee se bosromans soos Kringe in ’n bos (1984) en Fiela se kind (1985), Marlene van Niekerk se Triomf (1994) en Agaat (2004) en Deon Meyer se misdaadromans is in tientalle tale vertaal. Die vernaamste prys vir Afrikaanse fiksie is die Hertzogprys, wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns beurtelings vir prosa, poësie en drama toegeken word.[27]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Voetnotas

[wysig | wysig bron]
  1. teen ’n skatting van 300 woorde per bladsy.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Bell, James Scott (2004). Write Great Fiction: Plot & Structure (in Engels). Cincinnati: Writer's Digest Books. ISBN 978-1-58297-294-7.
  • Evanovich, Janet; Ina Yalof (2006). How I Write: Secrets of a Bestselling Author (in Engels). New York: St. Martin's Griffin. ISBN 978-1-59397-949-2.
  • Morrell, Jessica Page (2006). Between the Lines: Master the Subtle Elements of Fiction Writing (in Engels). Cincinnati: Writer's Digest Books. ISBN 978-1-58297-392-0.
  • Provost, Gary (1988). Beyond Style: Mastering the Finer Points of Writing (in Engels). Cincinnati: Writer's Digest Books. ISBN 978-0-89879-314-7.
  • Rafferty, Terrence (4 Februarie 2011). "Reluctant Seer". The New York Times Sunday Book Review (in Engels). Besoek op 24 Augustus 2026.
  • Rozelle, Ron (2005). Write Great Fiction: Description & Setting (in Engels). Cincinnati: Writer's Digest Books. ISBN 978-1-58297-327-2.
  • Saricks, Joyce (2009). The Readers' Advisory Guide to Genre Fiction (in Engels) (2de uitg.). Chicago: ALA Editions. p. 402. ISBN 978-0-8389-0989-8.
  • Selgin, Peter (2007). By Cunning & Craft: Sound Advice and Practical Wisdom for Fiction Writers (in Engels). Cincinnati: Writer's Digest Books. ISBN 978-1-58297-491-0.
  • Clark, Tom, red. (1992). The Writer's Digest Handbook of Novel Writing (in Engels). Cincinnati: Writer's Digest Books. ISBN 978-0-89879-507-3.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1 2 3 4 5 6 7 Farner, Geir (2014). "Chapter 2: What is Literary Fiction?". Literary Fiction: The Ways We Read Narrative Literature (in Engels). Bloomsbury Publishing. ISBN 978-1-62356-426-1.
  2. 1 2 Culler, Jonathan (2000). Literary Theory: A Very Short Introduction (in Engels). Oxford University Press. p. 31. ISBN 978-0-19-285383-7.
  3. 1 2 Hamilton, John (2009). You Write It: Science Fiction (in Engels). Edina, Minnesota: ABDO. pp. 8–9. ISBN 978-1-61714-655-8.
  4. Wood, James (2008). How Fiction Works (in Engels). New York: Farrar, Straus & Giroux. p. xiii.
  5. 1 2 Kuzminski, Adrian (1979). "Defending Historical Realism". History and Theory (in Engels). 18 (3): 316–349. doi:10.2307/2504534.
  6. George W. Young: Subversive Symmetry. Exploring the Fantastic in Mark 6:45-56. Brill, Leiden 1999, p. 98, 106-109. ISBN 90-04-11428-9
  7. Whiteman, G.; Phillips, N. (13 Desember 2006). "The Role of Narrative Fiction and Semi-Fiction in Organizational Studies". ERIM Report Series Research in Management. ISSN 1566-5283. Besoek op 23 Oktober 2009.
  8. Iftekharuddin, Farhat, red. (2003). The Postmodern Short Story: Forms and Issues (in Engels). Greenwood Publishing Group. p. 23. ISBN 978-0-313-32375-1.
  9. Menand, Louis (2018). "Literary Hoaxes and the Ethics of Authorship". The New Yorker (in Engels). Besoek op 24 Augustus 2026.
  10. Friend, Stacie (2017). "The Real Foundation of Fictional Worlds". Australasian Journal of Philosophy (in Engels). 95: 29–42. doi:10.1080/00048402.2016.1149736.
  11. Goodstein, Joshua; Weisberg, Deena Skolnick (2009). "What Belongs in a Fictional World?". Journal of Cognition and Culture (in Engels). 9 (1–2): 69–78. doi:10.1163/156853709X414647.
  12. Whitmarsh, Tim (2013). "The "Invention of Fiction"". Beyond the Second Sophistic: Adventures in Greek Postclassicism (in Engels). University of California Press. pp. 11–34. doi:10.1525/california/9780520276819.001.0001. ISBN 978-0-520-95702-2.
  13. Dunlop, John Colin (1845). The History of Fiction (in Engels) (3de uitg.). Longman, Brown, Green, and Longmans. pp. 46, 55–56.
  14. Johnson, Carroll B. (2000). Don Quixote: The Quest for Modern Fiction (in Engels). Waveland Press. p. 19. ISBN 978-1-4786-0914-8.
  15. 1 2 Chodat, Robert (2015). "The Novel". In Carroll, Noël; Gibson, John (reds.). The Routledge Companion to Philosophy of Literature (in Engels). Routledge. pp. 83–. doi:10.4324/9781315708935. ISBN 978-1-315-70893-5.
  16. Thompson, Kristin (2003). Storytelling in Film and Television (in Engels). Harvard University Press. p. 19. ISBN 978-0-674-01063-5.
  17. Niesz, Anthony J.; Holland, Norman N. (1984). "Interactive Fiction". Critical Inquiry (in Engels). 11 (1): 110–129. doi:10.1086/448277.
  18. Kaplan SAT Subject Test: Literature 2009–2010 Edition. Kaplan Publishing. 2009. p. 60. ISBN 1-4195-5261-9.
  19. Greenville College (2006). Plot A: The Pattern of the Action[dooie skakel]
  20. Bokesch, Laura. "Literary elements" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Januarie 2009. Besoek op 22 Augustus 2008.
  21. Metaphora, Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon, at Perseus
  22. Metaphero, Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon, at Perseus
  23. Meta, Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon, at Perseus
  24. Phero, Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon, at Perseus
  25. Eshraghi, Arman (10 Maart 2020). "Management Styles and Machine Learning: A Case of Life Imitating Art". Forbes (in Engels). Besoek op 24 Augustus 2026.
  26. 1 2 "Fictionalization" (in Engels). Oxford Reference. Besoek op 24 Augustus 2026.
  27. 1 2 3 Kannemeyer, J.C. (2005). Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaapstad: Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-4473-5.
  28. "Jan Rabie (1920–2001)". LitNet. Besoek op 24 Augustus 2026.
  29. "André Brink's Kennis van die aand – published 50 years ago – was the first Afrikaans literary work to be banned" (in Engels). LitNet. 2024. Besoek op 24 Augustus 2026.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]